Spinnekoppe behoort tot die sogenaamde Arthropoda of geleedpotige diere, wat ook insekte, myte, duisendpote, skerpioene en selfs garnale, krewe en krappe insluit.
’n Aantal ander minder bekende groepe behoort ook tot hierdie dierestam, wat om die waarheid te sê die heel grootste filum in die diereryk vorm. Daar is meer as 900 000 opgetekende geleedpotige spesies, maar waarskynlik nog talle en talle onopgetekendes. Hulle kom feitlik oral op aarde voor.
Die liggame van geleedpotiges bestaan uit segmente wat beweeglik teenoor mekaar is, buiten waar twee of meer van die segmente met mekaar versmelt is. Die liggaam is bedek met ’n huidskelet waarvan chitien die belangrikste bestanddeel is. Hierdie bedekking is plek-plek sterk en onbuigbaar, met delikater, buigsame aansluitings tussenin.
Fossielrekords toon dat reusagtige geleedpotiges met sagte bedekkings—see-skerpioene van tot twee meter—vroeër gelewe het, maar vandag s’n het slegs harde doppe wat in die reël nie groot liggame toelaat nie. Daar is weliswaar krewe wat tot sowat 20 kg kan weeg, maar die landdiertjies word nooit baie groot nie. Hulle moet ook gereeld hul doppe afwerp (vervel) namate hulle groei.
Baie mense dink aan die meeste geleedpotiges bloot as insekte en is dikwels verbaas wanneer hulle hoor dat byvoorbeeld spinnekoppe en skerpioene NIE insekte is nie.
Maar skerpioene en spinnekoppe lyk duidelik heelwat anders as jou tipiese insek. Hulle behoort tot die klas Arachnida, of spinnekopagtiges, wat al die diere insluit wat agt pote het, byvoorbeeld bosluise, myte, hooiwaens, romans, ens. Nege groepe met agt pote kom in Suid-Afrika voor.
Benewens daardie vier pare pote—pleks van drie soos by insekte—is die afsonderlike kop en bors (toraks), soos ’n mens dit by die insekte aantref, by hierdie spinnekopagtiges tot een struktuur versmelt.
Anders as baie soorte insekte het hulle boonop geen vlerke nie. Hulle het ook geen voelhorings nie.
|