Meerkat
Die graatjiemeerkat (Suricata suricatta), ook soms verwys na as die stokstertmeerkat of slegs meerkat, is 'n soogdiertjie wat in Suider-Afrika voorkom.
Graatjiemeerkatte is klein muishonde: 'n gemiddelde, volwasse mannetjie weeg 731 g en 'n vroutjie 720 g. Die gemiddelde totale lengte van 'n volwasse meerkat is ongeveer 55 cm. Die liggaam is lank en slank, met 'n lengte van 250 tot 350 mm. Anders as baie ander muishondspesies het die graatjiemeerkat nie 'n pluimstert nie: die dun, geelbruin stert wissel van 175 mm tot 250 mm in lengte en word geleidelik dunner tot die swart punt.
Die graatjiemeerkatte het 'n gepuntde gesig, met klein, halfmaanvormige oortjies. Die kleur van die dier se pels hang van sy woongebied af: in die suidelike deel van die verspreidingsgebied het die meerkat 'n donkerder pels, terwyl die meerkatte in die noorde van die verspreidingsgebied 'n ligter pels het. Oor die algemeen het die graatjiemeerkat 'n grys, ligbruin of bruin pels, met 'n silwer tint. Sy kloue is groot en aangepas om te grawe. Sy oë word deur kenmerkende donker vlekke omring en daar is ook horisontale strepe wat oor sy rug strek.
Die graatjiemeerkat se habitat beslaan dele van Suid-Afrika, Botswana, Zimbabwe en Mosambiek. Van al die muishondspesies, bewoon graatjiemeerkatte die oopste en dorste dele. Hulle word in grasvelde aangetref en hul verspreiding hang ook af van die grondsoort: hulle kom meestal voor in gebiede met ferm of harde grond voor.
Meerkatte eet hoofsaaklik insekte, maar sal ook klein gewerweldes, eiers en plantereste eet. Hull soek kos deur in die grond en gras te grawe en klippe om te keer.
Wanneer sy 24 maande oud is begin 'n wyfie gewoonlik paar. Alhoewel meerkatte dwarsdeur die jaar kan paar, vind geboortes dikwels tydens die reënerige, warmer dele van die jaar van Augustus tot Maart plaas; dus wag meerkatte gewoonlik vir gunstige omstandighede voor hulle paar. Wyfie is vir 11 weke dragtig, waarna sy telkens geboorte gee aan 3 kleintjies. Wyfies kan tot drie maal per jaar geboorte skenk. Die kleintjies se oë en ore is toe met geboorte en kan nie urineer of hulself ontlas sonder stimulasie van hul moeder nie. Die ore gaan na 10 dae oop en die oë na 10-14 dae. Hulle soog tot 'n ouderdom van 49 tot 63 dae. 'n Graatjiemeerkat is geslagsryp met 1 jaar en het 'n moontlike lewensduur van 12 tot 13 jaar. Die vader neem soms 'n aktiewe rol in die sorg van die kleintjies. Aangesien meerkatte 'n sosiale karakter het, help nie-parende meerkatte dikwels ook om die kleintjies te versorg en kos te voorsien.
|