Worsie Visser - Bok se Klok

Sarie Marais.Com Tuisblad

Radio Sarie Marais Ons Gesels Forum Kontak Ons
Tuis
Soogdiere
Bokke
Kat Familie
Perde en Donkies
Beeste
Skape
Varke
Voëls
Visse
Slange
Spinnekoppe
Honde
Ander

 

 

Diere, Voëls enVisse Van Suid Afrika

 

Bokke Tuisblad

Klipspringer

Rooibok Steenbok
Springbok Waterbok Bontebok
Blesbok Rietbok Blouduiker
Rooiribbok Vaalribbok Koedoe
Boerbok Eland  

Bokke

Manlik - Ram

Vroulik - Ooi

Kind - Lam / Lammetjie

Meervoud - Bokke of Trop Bokke

 

Klipspringer

bDie klipspringer is een van die kleinste wildsbokkies in Afrika en wod op klipkoppies en bergagtige dele van Suider en Oos-Afrika en Ethiopië aangetref. Hierdie bokke is baie akrobaties en kan met gemak deur hulle rotsagtige habitat beweeg. 'n Klipspringer se hoewe is so gevorm dat dit lyk asof hy op sy tone loop.

Volwasse klipspringers het 'n gemiddelde massa van 16 kg en 'n hoogte van ongeveer 60 cm. Ooie is ietwat groter as die ramme. Die ram het skerp, reguit horings wat tot 16 cm lank kan word; die ooie van 'n paar subspesies in Oos-Afrika het ook horinkies. Klipspringers het 'n gelerige huid, met 'n wit pens. Die binnekant van die ore is ook wit. Hulle het ook 'n unieke huid onder die antilope: lang hare wat skerp en bros is, wat dig teen hulle lywe lê om hulle teen die ruwe, bergagtige habitat te beskerm. Daar is verskeie subspesies wat hoofsaaklik volgens die diere se huidkleur gedifferensieer word.

Buiten sy grootte, kan die klipspringer uitgeken word aan sy houding: hy het klein, silindervormige hoef wat só groei dat dit lyk of die dier op sy tone loop. Ander kenmerke is die prominente donker vogkliere aan die binnehoeke van sy oë en sy besonders kort stert.

Soos die naam aandui, kan klipspringers maklik van klip tot klip spring en het hulle slegs 'n klein vastrapplek nodig. Hulle kan maklik bo-op rotspunte gesien word, waar hulle doodstil staan en die gebied om hulle bespied. Wanneer hulle bedreig word, uiter hulle 'n sagte fluitgeluid en slaan dan op die vlug.

Klipspringers is enkellopende diere, maar word soms ook in pare aangetref. Hulle is veral vroeg oggend en laat middag aktief en slaap dan tydens die warmste tyd van die dag.

'n Klipspringer se dieet bestaan hoofsaaklik uit gras en jong lote; hy verkry ook die nodige water van die blare en is dus nie afhanklik van 'n varswaterbron nie.

Die ooi is ongeveer 7 maande dragtig waarna 'n enkele lammetjie in die somer gebore word.

Rooibok / Impala

bDie rooibok (Aepyceros melampus, Grieks aipos "hoog" ceros "horing" + melas "swart" pous "poot") is 'n boksoort wat in Afrika aangetref word. 'n Rooibok weeg ongeveer 50 kg, is rooibruin van kleur met ligkleurige flanke, terwyl die pens onderlangs wit is. Die ram het liervormige horings.

Benewens die feit dat die rooibok een van die mees algemene kleinboksoorte is, word dit ook as een van die mooiste en mees grasieuse van die kleiner antilope beskou. 'n Rooibok kan met een sprong 10 m ver spring. Rooibokke kom in troppe voor, gewoonlik 'n ram met verskeie ooie. Hulle word algemeen in Suider-Afrika aangetref, en is sowel gras- as blaarvreters.

 

Steenbok

bDie steenbok is 'n klein wildsbokkie wat in die suide en ooste van Afrika voorkom.

'n Volwasse steenbok het 'n gemiddelde massa van 12 kg en is ongeveer 50 cm hoog. Steenbokke het twee klein, reguit horinkies op hulle koppe. Die langste horings wat al aangeteken is, was 18 cm. 'n Steenbok se kleur kan wissel van rooibruin tot baksteenrooi met 'n wit onderkant.

'n Steenbokooi is vir sewe maande dragtig, waarna sy geboorte skenk aan 'n enkele lammetjie.

 

Springbok

fDie springbok (Antidorcas marsupialis) is 'n klein (ongeveer 75 cm hoë) bruin-en-wit wildsbok. Springbokramme weeg 33-56 kg, terwyl ooie 'n gewig van 25-40 kg kan bereik. Springbokke kan 'n spoed van 80-90 km/h bereik, kan 3,5 m hoog en tot 15 m ver spring.

Springbokke bewoon die droë binnelandse gebiede van suidelike Afrika en was eens op 'n tyd volop in hierdie gebiede. Weens jagters en menslike besetting van hul woongebied is daar egter vandag aansienlik minder te vinde. Die Springbok was die nasionale sportsimbool van Suid-Afrika gewees. Die tradisie het sy oorsprong in die 1906-1907-rugbytoetsreeks in Engeland.

 

Waterbok

f

Die waterbok (Kobus ellipsiprymnus) is 'n wildsbok wat voorkom in Wes-Afrika, Sentraal-Afrika, Oos-Afrika en Suider-Afrika.

'n Waterbok is omtrent 100 tot 130 cm by skouerhoogte en weeg tussen 160 en 240 kilogram. Die vel is rooibruin maar word donkerder met ouderdom. 'n Wit 'borslap' is kenmerkend onder die keel asook 'n wit ring om die boude. Net bulle dra horings.

Waterbokke kom voor in bos en savanne-gebiede, met 'n dieet bestaande uit gras. Ondanks die naam 'Waterbok' is hulle nie lief om water binne te gaan nie. Koeie kom soms voor in troppe van twee tot seshonderd. Bulle is territoriaal met areas tot 1.2 km². Bulle verloor gewoonlik hul gebied voor die ouderdom van tien.

Bontebok

fDie bontebok is reeds 100 jaar vroeër as sy meer gekende bloedbroer, die blesbok, beskryf. Van al die oorblywende groter soogdiere in suidelike Afrika was die bontebok die naaste aan uitsterwing met 121 oorlewende individue in 1927. Dit het onder dieselfde menslike oorbenutting en habitatvernietiging gebuk gegaan as die uitgestorwe blauw-bok Hippotragus leucophaeus en die Kaapse kwagga Equus quagga. Beide die bontebok en blesbok se name is afgelei van hul velkleurpatrone. Die Afrikaans-Hollandse naam “bontebok” is oorgeërf in Engels.  Beskrywing
Die bontebok het dieselfde liggaamsbou as die blesbok, maar is ongeveer 15-20% kleiner met ‘n volwasse skouerhoogte van 78-97 cm en massa van 50-64 kg.  ’n Skuinsverlopende agterkwart wat veel kleiner is as die voorkwart, gee die dier dieselfde lae agterstewe-voorkoms as vir die blouwildebees en hartbees.

 

Blesbok

f

 

Blesbok - Damaliscus dorcas phillipsi (Harper, 1939) Die volksnaam verwys na die wit bles op die voorkop wat strek vanaf tussen die horings tot op die punt van die neus. Blesbokke het 'n skouerhoogte van 95 - 105 cm en 'n volwasse massa van ongeveer 75 kg vir ramme en 65 kg vir ooie. Die liggaamskleur is bruin en sonder die pruimkleurige skynsel van die bontebok. Die saal op die rug is ligter vaal gekleur en die onderdele vuil-wit. Beide geslagte dra horings. Soos by die "tsessebe" is die voorhoewe effens groter (70 x 47 mm) as die agterstes (64 x 40 mm).

 

Rietbok

fRietbok "Common Reedbuck" - Redunca arundinum (Boddaert, 1785)

Deur Deon Furstenburg

Bok van die riete met "buise" om die horings. Die naam "rietbok" verwys na 'n voorliefde vir riete en vleiagtige gebiede. Die rietbok is verwant aan die rooiribbok ("mountain reedbuck") Redunca fulvorufula en die "Bohor"-rietbok R. redunca. Vir laasgenoemde word vier subspesies onderskei: Soedanse Bohor R. r. cottoni; Nigeriese Bohor R. r. nigeri�nsis; Oosterse Bohor R. r. wardii; en die Abessiniese Bohor R. r. redunca. Vir die rietbok R. arundinum word twee subspesies onderskei, nl. die suidelike rietbok R. a. arundinum (Boddaert, 1785) en die noordelike rietbok R. a. occidentalis (Rothschild, 1907).

Histories het die rietbok van wes tot oos regoor die sentrale dele van Afrika voorgekom (Angola, Za�re, Kongo, Gaboen, Mosambiek, Zambi�, Malawi, Zimbabwe en Tanzani�) asook in 'n gordel langs die oostelike dele van Suid-Afrika (Transvaalse Laeveld, KwaZulu-Natal, Oos-Vrystaatse hooglande, Oos-Kaapland en tot so ver wes as Swellendam).

Sedert die 1950's het die suidelike verspreiding gekrimp tot oos van die Sondagsrivier. Getalle het sodanig gedaal dat die dier in die 1970's tot rooidatastatus verklaar is. Teen 1984 was die rietbok feitlik totaal in die Vrystaat en die voormalige Kaapprovinsie uitgewis. Afname in getalle en verspreiding was grootliks die gevolg van menslike vernietiging van die dier se hoogs selektiewe habitats. Sedert 1990 is 'n mosa�ek van teeltroppies vanuit KwaZulu-Natal weer hervestig in gelokaliseerde habitats regoor die eertydse verspreidingsgebied. Rietbokgetalle is steeds relatief laag, wat die dier 'n hoë ekonomiese waarde besorg het.

Blouduiker

b

Die blouduiker of bloubokkie is een van die kleinste van die antiloopsoorte. Hulle kan in beboste gebiede van Sentraal- tot Suider-Afrika aangetref word.

'n Volwasse blouduiker het 'n gemiddelde hoogte van 35 cm. Hulle het klein horinkies op hulle koppe; die langste horings wat al aangeteken is, was 10 cm. Blouduikers vreet hoofsaaklik vrugte, alhoewel hulle ook soms vars blare eet wat na die grond geval het. 'n Blouduiker is 'n skugter dier en sal in die ruigtes duik wanneer hy gesteur word.

Na 'n draagtyd van sewe maande, gee die ooi tussen September en November geboorte aan 'n enkele lammetjie. Blouduikers het 'n moontlike lewensduur van 9 jaar.

Rooiribbok

b

Die Rooiribbok (Redunca fulvorufula) is 'n medium grootte wildsbok wat in bergagtige gebiede in Afrika, suid van die Sahara, aangetref word.

Volwasse rooiribbokke het 'n gemiddelde hoogte van 75 cm en weeg ongeveer 25 kg. Ramme het twee ietwat gekromde horings wat tot 23 cm lank kan wees.

Die ooi baar telkens een lammetjie. Rooiribbokke kan tot 8 jaar oud word.

Alhoewel hy "rooiribbok" heet, is hierdie bok nouer verwant aan die rietbok, as aan die vaalribbok.

 

Vaalribbok

vDie vaalribbok is 'n wildsbok wat in Suid-Afrika, Zimbabwe, Lesotho en Swaziland aangetref word.

'n Volwasse vaalribbok het 'n gemiddelde massa van 22 kg en 'n hoogte van ongeveer 75 cm. Die ram het dun, regop horings wat tot 29 cm kan word en effens vorentoe buig. Die bok se haarkleed is meer wollerig en krullerig as ander wildsbokke en word soms deur onwetendes vir 'n boerbok aangesien. Vaalribbokke het 'n bruin-grys bokant, met gelerige bene en gesig en 'n wit pens en stert. Een van die vaalribbok se kenmerke is sy uiters lang, gepunte ore. Sy lang gesig eindig in 'n klein bek en sy oë het wit rande om.

Die vaalribbok se dieet bestaan hoofsaaklik uit die blare van tweesaadlobbige plante en gras. Hulle verkry die nodige water uit die blare wat hulle vreet en is dus nie afhanklik van 'n varswaterbron nie.

'n Vaalribbok is oordag aktief, met afwisselende periodes waartydens hy wei en rus, alhoewel die warm middagure hoofsaaklik rustig in die koelte deurgebring word. Daar is twee sosiale groepe wat voorkom: 'n groep wyfies met 'n dominante mannetjie (gemiddeld 8 diere, maar kan tot 20 wees) en 'n groep enkellopende mannetjies op soek na 'n groep met wyfies wat oorgeneem kan word. Wanneer 'n vaalribbok gevaar bespeur, vlug dit met kenmerkende skommelperdbewegings en wys hy die wit onderkant van sy stert. Vaalribbokke is goeie springers en klimmers.

Ramme is poligamies: hulle word met meer as een ooi geassosieer. 'n Ram sal sy groep ooie teen ander ramme beskerm deur die ramme af te skrik deur te proes en sy hoewe teen die grond te stamp of selfs aan te val. Verlorende ramme is dikwels alleenlopend. Die ramme is uiters aggressief en sal tydens die paarseisoen soms ander vaalribbokramme, skape en boerbokke doodmaak. Die paarseisoen is in April en die ooi gee telkens in November of Desember geboorte aan 'n enkele lammetjie. 'n Mannetjie is teen 18 - 21 maande geslagsryp en sal dan die groep verlaat om sy eie gebied te vestig.

Vaalribboke het 'n gemiddelde lewensduur van 8 tot 10 jaar. Anders as ander diere, vaar vaalribboke nie goed in gevangenis nie.

Koedoe

bKoedoes in die Oos-Kaap neig om kleiner te wees as in die res van suidelike Afrika. Dit is waarskynlik die gevolg van verskille in habitat, klimaat en dieet en ’n geruime tyd van isolering vanaf die res van die koedoebevolking. Die gemiddeld vir 220 volwasse Oos-Kaap koeie is 136,8 kg teenoor 155 kg vir koeie van die Nasionale Krugerwildtuin-gebied.  Koeie bereik maksimum massa op 4-5 jaar waarna hulle geleidelik gewig verloor. Bulle het nie ’n meetbare gemiddelde maksimum volwasse massa nie. Bulle se massa neem deurlopend toe met veroudering (tot 12-16 jaar) en bereik 260-315 kg. 

Volwasse koeie op natuurlike veld word selde ouer as 8 jaar. Die meerderheid vrek op 6-8 jaar gedurende hul fisiologiese verswakkingsfase, gewoonlik gepaardgaande met ’n droogtetoestand en ’n nat kouefront. Die oorsaak van dood is dan gewoonlik hipotermia en gevolglike neumonia.

Albei geslagte het ’n goed ontwikkelde maanhaar met pertinente wit haarpunte oor die nek en skof. Vanaf die maanhaar strek 9-10 vertikale wit strepe oor die flank aan elke sy. Die oostelike groter koedoe het slegs 6-8 strepe en die noordelike groter koedoe 4-7 strepe. Met veroudering (>8 jaar) verkleur die bulle grys-blou en die hare verloor hul glans. Verouderde koeie se hare word dof en begin na 5 jaar uitval wat hulle verwaarloos laat lyk. 

Die spoor is ’n effens verlengde 2-kloutjie-afdruk wat skerp gepunt aan die voorkant en gerond aan die agterkant is. Voorpote is effens groter (5-6 x 3-4cm) as die agterstes (4,5-5,5 x 3-4cm).  Meeste volwasse bulle (>8 jaar) se spore is meer gerond, beide aan die basis en by die punt, en die spoor vergroot met veroudering tot ’n maksimum van 9 x 5cm.

Boerbok

bDie Boerbok het sy oorsprong in die Oos-Kaap. ’n Wye verskeidenheid bokrasse bestaan vandag wêreldwyd: vanaf die Pigmeë in Midde-Afrika tot die Veredelde Boerbok wat in Suid-Afrika geteel is. Die populêrste melkras is die Saanenbok. Die bokke wat vir vleisproduksie aangewend word, het ’n kleiner bouvorm as die melkbok. Die veselproduserende bokke, soos die Angora en Kasmier, is meer bekend vir bokhaar en kasmiervesels.

 

 

 

Eland

bDie Eland, (Taurotragus oryx), ook Kaapse Eland of Kleinere Eland, is 'n wildsbok wat op savannas in Oos-Afrika en Suidelike Afrika aangetref word.

Die eland se skouerhoogte is ongeveer twee meter en hulle kan enigiets van 300 tot 1,000 kilogram weeg. Dit maak die eland die grootste van die boksoorte. Elandbulle is gewoonlik donkerbruin of grys, terwyl elandkoeie bruin of ligbruin is. Elande het dikwels ook 'n wit streep vertikaal oor die lyf aan albei kante. Beide die bul en koei het reguit horings wat ongeveer 65 sentimeter lank kan wees. Die koei se horings is gewoonlik langer maar dunner.

Elande eet gras, takke en blare. Hulle leef gewoonlik in troppe van dertig tot tagtig, maar groter troppe van by die vierhonderd is al aangetref. Ten spyte van hul grootte, kan 'n eland maklik oor 'n heining van 1.5 m spring sonder 'n aanloop.

Elande kan hulself goed verdedig teen roofdiere en is in staat om selfs 'n leeu te dood. Dit is waarskynlik die rede hoekom elande 'n mistieke of spirituele kwaliteit verkry het deur die geskiedenis. Elande is algemeen in rotskuns uitgebeeld, wat aandui dat hulle gesien is as diere met 'n sterk verbintenis tot 'n ander wêreld. Elandvet is ook gebruik in die teken van rotskuns en ook in die maak van medisyne.

Die vroeëre reisigers na die Kaap het geglo die eland en die eenhoring is verwant, waarskynlik omdat sommige reisigers aangeteken het dat eenhoring-elande in die Kaap voorgekom het. Daar is ook die geval van 'n horing in die McLeodkasteel in Skotland wat as die horing van 'n eenhoring bewaar is, maar later identifiseer is as die horing van 'n eland.


Bronne: http://af.wikipedia.org/wiki/ , http://ekapa.ioisa.org.za/ekapaafr/module6/Reserves/helderbergreserve.htm , Wild en Jag , http://home.intekom.com/africantravel/Domains/wildlifehunt/articles/march2006-animals.html , http://www.digitalekameraklub.co.za/ ,

 

  Kontak Ons  

Ek gee waar moontlik erkenning waar moontlik, indien ek dalk van u materiaal sonder toestemming gebruik kontak my asb sodat ek dit kan regstel

Baie van die inligting op hierdie webblad is aan my gestuur deur vriende en forum lede daarom is en nie altyd seker van moontlikke kopie reg nie.